Staking ontwrig Franse vlugte
2010-02-26 00:00
Parys – Vlugte in Frankryk is vir ‘n derde dag ontwrig nadat onderhandelings tussen lugverkeer-operateurs en die regering daarin misluk het om ‘n einde aan die staking te bring, het die Franse lugvaartowerhede gesê.
Die helfte van alle vlugte is Donderdag by die Paris-Orly lughawe gekanselleer, asook sowat 15% van die vlugte by Paris-Charles de Gaulle-lughawe, het die burgerlugvaartowerheid (DGAC) in ‘n verklaring gesê.
Air France, Frankryk se grootste lugredery het op hulle webblad gesê hulle sal alles in hulle vermoeë doen om alle lang-afstand vlugte vanaf Charles de Gaulle en Orly, 85% van alle Europese en plaaslike vlugte van albei lughawens, asook plaaslike en Europese vlugte van Orly te verseker.
Vakbonde het besluit om met die staking voort te gaan nadat onderhandelings met die Franse ministerie daarin misluk het om ‘n ooreenkoms te bereik.
Die vakbonde het Dinsdag ‘n vyf-dag lange staking van stapel gestuur om teen die modernisering van die lugverkeer te protesteer.
Vakbonde vrees dat dit tot werksverliese sal lei.
- Reuters