Staking kan Lufthansa vir dae verlam
2010-02-22 05:28
Berlyn - Lufthansa se vlieëniers het Maandag ’n vier-dag lange staking van stapel gestuur weens ongelukkigheid oor salarisse en werksekuriteit.
Dié staking kan egter twee derdes van die Duitse lugdiens verlam laat.
Stefanie Stotz, Lufthansa se woordvoerder het die staking bevestig.
"Ons vra omverskoning vir enige ongerief wat dié staking vir passasiers mag bring.”
Meer as 4000 vlieëniers van die Cockpit-unie sal na verwagting aan die staking deel neem, wat Sondagnag omstreeks 24h00 begin het.
Die Duitse regering het ‘n beroep op die unies gedoen om besprekings met die bestuur van die lugdiens te hervat. Beide partye het egter gesê hulle is reg om weer te praat, maar die een blameer die ander, omdat nie een van hulle al na vore gekom het om verder te onderhandel nie.
Sowat 3200 Lufthansa vlugte (800 per dag) sal glo deur die staking getref word, asook vlugte van Lufthansa Cargo. Lufthansa se streeksvennote sal egter nie geraak word nie.
Cockpit dring aan op 'n salarisverhoging van 6.4%, ‘n groter sê in ondernemingsbesluite, asook ‘n belofte dat vlieëniers hulle werk sal behou wanneer passasiers na goedkoper buitelandse sustersmaatskappy verwys word.
Stoltz het enkele oomblikke voor die staking aan AFP vertel hulle maak hulle gereed vir die ergste.
"Die situasie is onveranderd en ons gaan steeds voort daarmee.”
Cockpit se woordvoerder, Joerg Handwerg het die maatskappy daarvan beskuldig dat hulle vir ‘n geveg gesoek het nadat hulle sprake van onderhandelings van die hand gewys het.
Lufthansa het Sondagoggend luidens ‘n verklaring heroorweeg om met die vlieëniers te praat in ‘n poging om die staking te voorkom.
“Ons oorweeg dit om met hulle te praat sonder enige voorwaardes,” het die woordvoerder, Klaus Walther gesê.
“Cockpit het onwettige eise laat vaar en ‘n ooreenkoms kan nou vinnig bereik word.”
Hans-Peter Keitel, die hoof van die Federasie van Duitse Nywerhede (BDI) het gewaarsku dat Duitse uitvoerhandelaars miljoene gedurende die staking kan verloor.
Die staking kan Lufthansa oor die €65 miljoen (770 miljoen) kos en die lugdiens kan sowat €100 miljoen (R1 miljard) verloor indien vlugte gekanselleer word.
-Sapa-AFP