Spirituele leier uitgewys as Chinese spioen
2011-01-31 23:00
Berlyn - Aanklaers het Maandag gesê ‘n 54-jarige Duitse man word daarvan aangekla dat hy namens Chinese agente op die Falun Gong-beweging se groepering in Duitsland gespioeneer het.
John K. was een van die stigters van die Duitse groepering van die Falun Gong-beweging en het aan internasionale konferensies van die beweging deelgeneem.
Die beweging, met sy Buddhistiese inslag, word in China verban.
John K. het na bewering van 2006 af inligting oor die Duitse groepering se interne strukture en aktiwiteite aan die Chinese geheime dienste gestuur. Hy het ook e-posse aangestuur.
Die Falun Gong-beweging, wat bekend is om sy lede se meditatiewe oefeninge, word in China as ‘n “bose sekte” bestempel. Die beweging sê sy lede word in China brutaal hanteer en selfs vermoor.
- Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP