Spioen besoek vreemde sekswebwerwe voor sy dood
2010-12-23 11:02
Londen – ’n Britse spioen wie se lyk in Augustus toegesluit in ’n sak in sy woonstel gevind is, het kort voor sy dood bondage-webwerwe besoek en het ’n klomp ontwerpersrokke besit, het die polisie gister bekend gemaak.
Bondage gebeur wanneer mense mekaar vir perverse seks vasbind.
Die polisie wat die geheimsinnige dood van Gareth Williams (30) ondersoek, glo steeds iemand het hom gehelp om in die rooi sak te kom waarin sy lyk gevind is.
Williams was ’n kodebreker vir die Britse buitelandse intelligensie-diens, MI6.
Die ondersoek beweeg al hoe nader aan sy persoonlike lewe en al hoe verder van bewerings dat sy dood met sy werk verband hou.
Speurder Hamish Campbell van Scotland Yard het aan die media gesê iemand wat by die wêreld van bondage betrokke is, het waar-skynlik iets met Williams se dood te doen gehad.
“Ons glo vas iemand anders was in die woonstel. Ons wil weet onder watter omstandighede los ’n mens iemand in daardie posisie – per ongeluk of met opset?” het hy gesê.
Williams het vyf bondage-web-werwe tussen die einde van verlede jaar en Julie vanjaar besoek, het die speurder Jackie Sebire, wat die ondersoek lei, gesê.
“Die webwerwe wys stap vir stap hoe om sekere dinge te doen.”
Sy het gesê daar was egter geen bondage-toerusting in die woon-stel nie.
Daar was wel sowat £15000 (sowat R157000) se ontwerpersklere, waaronder rokke en skoene, asook ’n aantal vrouepruike.
Volgens Sebire kan die klere dalk verband hou met ’n modekursus wat Williams in 2009 en 2010 t by die beroemde St Martin’s College in Londen bygewoon het.
Williams was vier dae voor sy dood by ’n fopdosvertoning in Londen en het kaartjies gehad vir nog twee. Sebire het gesê die kenner wat die rooi North Face-sak ondersoek het waarin Williams se naakte liggaam op 23 Augustus gevind is, het tot die gevolgtrekking gekom dat hy nie homself daarin toegesluit het nie.
Die sleutel was saam met sy lyk binne-in die sak. Hy is op 15 Augustus laas lewend gesien.
Die polisie probeer nog om ’n paar mense van Mediterreense afkoms op te spoor wat in Junie of Julie in sy woonstel was.
- Die Burger