Spa's in die Maledive gesluit oor 'prostitusie'
2011-12-30 17:02
Colombo – Owerhede in die Maledive het honderde luukse hotelle aangesê om hul spa's te sluit ná klagtes deur 'n Islamitiese party wat beweer dat prostitusie uit dié instellings bedryf word, het 'n amptenaar aan die nuusagentskap AFP gesê.
Hotelle op al 1 192 piepklein eilande wat deel is van die Maledive is gedwing om spa's en gesondheidsentrums wat skoonheidsbehandelings aanbied, dadelik te sluit.
Die Adhaalath-party, 'n konserwatiewe godsdienstige beweging, het verlede week 'n protesoptog in die hoofstad, Male, gehou waartydens beweer is dat dié spa's as bordele gebruik word.
"'n Islamitiese party het protes aangeteken teen spa's in 'n poging om die regering in 'n verleentheid te stel," het 'n senior amptenaar in die regering gesê. Die amptenaar het bevestig dat dié besluit geneem is, maar het gevra dat sy identiteit nie bekend gemaak nie.
Die toerisme-bedryf is 'n groot bron van inkomste vir die Maledive se ekonomie, met hotelkamers wat tot $12 000 (sowat R97 000) per nag kos.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP