Spanje se Katalonië wil bulgevegte verban
2010-07-28 02:08
Madrid – Die plaaslike parlement in Katalonië sal Woensdag stem oor die verbanning van bulgevegte in dié noord-oostelike streek van Spanje.
Katalonië is die tuiste van Barcelona – Spanje se tweede grootste stad.
Die parlement stem oor dié kwessie nadat diereregte-aktiviste ‘n veldtog geloods het en 180 000 handtekeninge in Katalonië vir ‘n petisie ingesamel.
Daar is onlangs aangedui dat ‘n meerderheid van 135 wetgewers saamstem om Katalonië se wet oor dierebeskerming te verskerp sodat bulle tydens die gevegte nie mishandel of doodgemaak word nie.
Indien dit goedgekeur word, sal Katalonië die eerste streek in die land, buite die Kanariese Eilande, word om bulgevegte te verban.
Bulgevegte is in 1991 onwettig in die Kanariese Eilande gemaak.
Alhoewel die argumente wat die verbanning ondersteun op dierebeskerming fokus, glo talle in die res van Spanje dat die behoefte om dit te verban, gebaseer is op Katalonië se begeerte om hul eie identiteit te beklemtoon.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP