Soldate sit plunderaars met traangas stop
2010-03-01 15:32
Concepcion – Troepe het Maandagmiddag traangas gevuur om plunderaars, wat besig was om hulself aan hope goedere in Chili te vergryp, onder beheer te bring.
President Michelle Bachelet het vroeër Maandagoggend die dodetal van 708 bevestig nadat Chilli Saterdag deur ‘n 8.8-grootte aardbewing getref is.
Die erns van die skade en die gevaar word al duideliker soos reddingswerkers na oorlewendes soek en kusdorpe en stede deur massiewe golwe geteister word.
Burgers het winkels en besighede wat weens die aardbewing verwoes is, van goedere begin stroop.
Die weermag was ook ontbied om die polisie by te staan.
Sommige plunderaars het met winkeltrollies vol goedere verdwyn, terwyl ander duursame items soos televisiestelle en elektrisie toerusting gegryp het.
Guillermo Ramirez, die militêre bevelvoerder van Maule, het soldate uitgestuur om die 500 000 inwoners van Concepcion te waarsku dat soldate heel nag op patrollie gaan wees.
"Ek raai misdadigers aan om nie met die gewapende magte in opstanding te kom nie,” het hy aan die voornemende plunderaars gesê.
Die troepe was gedwing om traangas te vuur nadat die polisie gesukkel het om die plunderaars in bedwang te bring.
"Ons benodig voedsel vir die bevolking. Ons is uit voorraad. As ons die kwessie nie vinnig oplos nie, gaan ons ernstige sekuriteitsprobleme gedurende die nag ervaar," het Concepcion se burgemeester, Jacqueline van Rysselberghe gesê.
Bachelet het gesê die lugmag sal na verwagting voedsel en ander belangrike voorraad aan die dele van Chili verskaf wat baie erg geruk is.
- Sapa-AFP