Soldate gewaarsku oor 'Nazi-vlag'
2012-02-11 07:05
Los Angeles – ’n Groep Amerikaanse vlootsoldate wat in Afganistan met ’n Nazi-agtige vlag geposeer het, het ’n waarskuwing gekry, maar straf vrygespring, het die Amerikaanse weermag gesê.
Die foto is in September 2010 geneem en toon verskeie soldate “by ’n vlag wat lyk asof dit ’n Nazi-verwante simbool op het,” lui die verklaring van Camp Pendleton in Kalifornië.
Die foto is in November verlede jaaronder die owerhede se aandag gebring toe dit aanlyn gepubliseer is. Die betrokke vlootsoldate is lede van die 1ste Verkenningsbataljon, 1ste Mariene Afdeling en 1 Mariene Ekspedisiemag.
“Die voorval was nie rasgemotiveerd nie. Die betrokkenes het erken die simbool kan verkeerd opgeneem word en pas nie by die mariene korps se waardes nie.”
“Die bevelvoerder het beslis dat tugstappe onnodig is. Alle vlootsoldate in die eenheid is daaraan herinner dat sulke gedrag nie geduld sal word nie en dat verdere oortredings tot strawwe kan lei.”
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP