Soektog na vermiste klimmers afgelas
2011-10-31 07:59
Seoel – ’n Suid-Koreaanse reddingspan het weens gevaarlike omstandighede hul soektog afgelas na drie bergklimmers wat vermis geraak het tydens ’n poging om een van die wêreld se hoogste pieke in die Himalajas te klim.
Die reddingspan, bestaande uit Nepalese sjerpas en klimmers van Seoel, het op die suidelike hang van die berg Annapurna gesoek na die bergklimmer Park Young-Seok en nog twee klimmers wat sowat twee weke gelede daar vermis geraak het.
Park (47) het Annapurna – een van die 14 hoogste pieke ter wêreld – al geklim. Hy en sy kollegas het die basiskamp op 18 Oktober die laaste keer gekontak om te sê hulle het by 6 300 m ophou klim en sou weens sneeu en vallende rotse terugdraai.
Die Korean Alpine Federation het op sy webblad berig die reddingspan het besluit dit is te moeilik om verder te soek. Die reddingspan en die families van die vermiste klimmers sal vandag ná ’n gedenkdiens by die basiskamp na Seoel terugkeer. – Sapa-AFP
Volg Nuus24 op Twitter