Soedan se pers weer vry
2009-09-27 19:18
Kartoem - President Omar al-Beshir het pas bekend gemaak dat alle sensorskap op die media gelig gaan word.
Die aankondiging kom enkele maande voor Soedan sy eerste presidensiële verkiesing in 25 jaar gaan hou.
Beshir het Sondag op die SUNA-nuusagentskap bekend gemaak dat hy 'n einde bring aan die "sensorskap", 'n sisteem waarin koerante vooraf deur keurmeesters gemonitor word voordat dit die strate tref om sódoende die regering van "sensitiewe" artikels te beskerm.
"Van vandag af is die sensuur waaraan koerante onderwerp is verby en joernaliste het nou totale vryheid," het Ali Shimo, hoof van die persraad aan AFP vertel.
Die parlement het in Junie vanjaar 'n nuwe wet ingestel wat die media vryheid van spraak gee, maar die media is egter verbied om "godsdiens, rassisme, oorlog of geweld aan te hits" om sódoende "morele en religieuse waardes te beskerm en te respekteer."
Joernaliste wat die perswet oortree, moet egter 'n boete betaal.
Alhoewel die wet bedoel was om die vryheid van die media te verseker, is sensuur steeds binne die praktyk beoefen.
Die nuwe perswet en verligte sensorskap geld slegs vir die gedrukte media en nie vir regstreekse televisie uitsendings nie, wat grootendeels deur die Soedanse regering beheer word.
- Sapa