Sneeustorting eis 18
2010-02-18 20:35
Islamabad – Agttien mense is dood nadat ‘n reuse sneeustorting Woensdag die noordweste van die Kohistan-distrik getref het.
Mohammad Ilyas, Kohistan se polisiehoof, het gesê ‘n hoop huise in Bagrodara is onder die sneeu begrawe.
“Plaaslike inwoners sowel as die polisie het reeds 18 lyke uit die sneeu gehaal, maar reddingspogings gaan steeds voort,” het Ilyas gesê.
Owerhede beweer egter dat daar nog baie mense onder die sneeu vasgevang is.
Reddingspogings het etlike ure geneem om te begin omdat al die paaie na die dorp afgesper was. Polisiebeamptes en vrywilligers moes glo regdeur die nag bergklim om by die toneel uit te kom.
Volgens Ilyas ervaar die polisie ook kommunikasie probleme omdat daar nie radiosein op die berg is nie.
Pakistan se noordwes-streek het die afgelope maand swaar sneeu-neerslae ervaar.
-Sapa-dpa