'Slegs Bin Laden se dood sal Al-Kaïda kelder'
2009-12-09 10:08
Washington - Genl. Stanley McChrystal, die Amerikaanse topbevelvoerder in Afganistan, sê Al-Kaïda sal slegs oorwin word wanneer sy leier, Osama Bin Laden, gevang of doodgemaak word.
McChrystal het aan die Amerikaanse kongres gesê Bin Laden het 'n "ikoniese figuur" geword.
Hy het gesê pres. Barack Obama se besluit om nog 30 000 troepe na Afganistan te ontplooi beteken dat sukses moontlik is.
McChrystal sê egter dié veldtog is "uiters moeilik" en dat die volgende 18 maande van kardinale belang sal wees.
"Ek dink nie ons kan Al-Kaïda oorwin tensy (Bin Laden) nie dood of gevang is nie. Sy oorlewing moedig terroristegroepe soos Al-Kaïda aan, " het McChrystal gesê.
Die VSA se ambassadeur in Kaboel, Karl Eikenberry, het ook getuig en gesê "om Bin Laden te vang bly belangrik vir Amerikaners en die res van die wêreld".
McChrystal en Eikenberry het die parlament oor die Afgaanse oorlog toegespreek ná Obama nog 30 000 troepe na dié land ontplooi het.
Obama se veiligheidsraadgewer, genl. James Jones, het Sondag aan CNN gesê die jongste intelligensieverslag dui daarop dat Bin Laden "iewers in die noorde van Waziristan in noordwes Pakistan is, en dat hy soms aan die Pakistanse kant van die grenspos en soms aan die Afgaanse kant wegkruip".
Robert Gates, Amerikaanse minister van verdediging, het Sondag in 'n onderhoud gesê Washington weet nie waar Bin Laden is nie en het nie betroubare inligting oor sy bewegings nie.
– Sapa-AFP