Slapende man oorleef brand in huis
2009-10-12 17:17
Pittsburgh – ‘n Man van hier het rustig geslaap terwyl sy huis aan die brand geslaan en gedeeltelik ineengestort het.
Eers nadat die brand onder beheer gebring is, en brandweermanne die huis deursoek het, het die man wakker geskrik.
Volgens John Reubi, ‘n brandweerman was hy stomgeslaan dat die man die brand oorleef het. Die brand het vroeg Sondagoggend uitgebreek, en was deur ‘n verbyganger aangemeld.
Brandweermanne was aanvanklik nie in staat om die huis vir slagoffers te deursoek nie, omdat ‘n gedeelte van die dak ingetuimel het. Nadat die brand onder beheer gebring is, het brandweermanne deur die huis geloop en die man in 'n kamer aangetref. Reubi sê dit het voorgekom asof die man nie ‘n idee gehad het van wat om hom aangaan nie.
Beamptes sê die huis het verskeie aanbouiings gehad, wat dalk die man se kamer teen die vlamme kon beskerm het. Die man was vir rookinaseming behandel.
- Sapa-AP