'Slagter van Bosnië' in hospitaal opgeneem
2011-10-11 12:19
Londen – Ratko Mladic, voormalige Bosnies-Serwiese weermagshoof, is in ‘n hospitaal opgeneem, het die BBC berig.
Mladic (69), wat verlede week in Den Haag, Nederland, in die hof verskyn het, het glo longontsteking.
Ljiljana Bulatovic, skrywer van die oud-weermaghoof se biografie, sê die hospitaal sal later meer inligting verskaf.
Mladic het die meeste van verlede week se hofverrigtinge gebruik om sy verskeie kwale, waaronder nierstene, te verduidelik.
Mladic – die sogenaamde "slagter van Bosnië" – word verhoor op aanklag van volksmoord, oorlogsmisdade en misdade teen die mensdom.
Die Verenigde Nasies (VN) se tribunaal het Mladic in 1995 van volksmoord aangekla. Die VN beskuldig hom daarvan dat hy die slagting van 8 000 Moslem mans en seuns in Srebrenica georkestreer het.
Hy word ook van ander oorlogsmisdade tydens die Bosniese oorlog (1992 – 1995) beskuldig.
Lees meer hier
Volg Nuus24 op Twitter