Slagter deur kalwers aangeval
2011-12-21 22:55
Vienna – Die eienaar van 'n slaghuis in Oostenryk is Woensdag ernstig beseer nadat hy deur twee kalwers, wat geslag sou word, aangeval is, het die polisie gesê.
Die 55-jarige eienaar van Graz in die suide van Oostenryk was besig om die twee 600 kg diere van 'n vragmotor af te laai toe een van hulle die platform waarop die diere gelaai sou word op hom omgekeer het. Die man het toe op die grond geval.
Die ander kalwer het die man toe met sy horings teen sy kop, maag en bors aangeval.
Die eienaar kon daarin slaag om te ontsnap, maar het ineengestort. Hy is per helikopter na 'n hospitaal geneem.
Die lot van die kalwers is nie bekend nie.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- AFP