Slagoffers bevestig priester het hulle mishandel
2011-07-18 21:57
Duitsland – Twee seuns het Maandag bevestig dat ‘n Duitse priester hulle ‘n paar jaar lank seksueel mishandel het.
Die 46-jarige priester is Saterdag deur die polisie in hegtenis geneem en het die misdade erken.
Hy het eers net erken dat hy ‘n 10-jarige seun in 2004 seksueel mishandel het, maar het die polisie later van die twee ander slagoffers ingelig.
Die priester, van Hildesheim in Duitsland, is tydelik uit sy pligte geskors.
Die polisie is tans besig met ‘n ondersoek om vas te stel of meer gevalle van mishandeling plaasgevind het, het staatsaanklaers gesê.
Daar is Vrydag op die priester se rekenaar en dokumente beslag gelê, maar ondersoekbeamptes het nie bevestig of hulle enige kinderpornografiese materiaal gekry het nie.
‘n Familie het in 2006 ‘n klagte ingedien en gesê die priester soek die geselskap van kinders. Hulle het verlede jaar weer hul klagte hernu, nadat ‘n reeks openbarings van priesters wat kinders seksueel mishandel, aan die lig gekom het.
Staatsaanklaers kon egter geen bewyse vind nie.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa-DPA