Skudding tref rampgeteisterde Turkye
2011-11-30 12:16
Ankara – ‘n Aardbewing wat 5.0 gemeet het, het oornag die reeds geteisterde Van-provinsie in die ooste van Turkye getref.
Volgens die media is niemand beseer nie.
Die skudding het omstreeks 02:25 (SA tyd) voorgekom en talle inwoners skrik op die lyf gejaag, het die nuusagentskap Anatolia berig.
Talle van dié mense woon steeds in tente ná die massiewe aardbewing op 23 Oktober waarin meer as 600 mense dood is.
Plaaslike owerhede sê geen beserings of skade is aangemeld nie.
Die dodelike skudding in Oktober is deur nóg ‘n aardbewing op 12 November gevolg. Die tweede skudding, wat 5.6 gemeet het, het 40 mense se lewens geëis.
Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP