Skudding tref Japanse rampgebied
2011-10-10 10:43
Tokio – ‘n Aardbewing wat 5.5 gemeet het, het Japan se Fukushima-gebied getref.
Volgens beamptes is die kernaanleg wat in Maart se massiewe aardbewing en tsoenami beskadig is, stabiel ná Maandagoggend se skudding.
Die Amerikaanse geologiese opname (USGS) sê die aardbewing het om 04:45 (SA tyd) in die see naby die Fukushima-distrik in die noorde van die land ontstaan.
Japan se meteorologiese agentskap sê ‘n tsoenami word nie verwag nie. Geen skade is onmiddellik aangemeld nie.
Tokyo Electric Power Co. (Tepco), operateur van die Fukushima Daiichi-kernkragaanleg, sê die aanleg is stabiel.
Wolkekrabbers in die hoofstad, Tokio, wat sowat 245 km van die distrik geleë is, is effens deur die aardbewing geskud.
Op 11 Maart vanjaar het ‘n aardbewing wat 9.0 gemeet het, ‘n massiewe tsoenami veroorsaak. Die ramp het omtrent 20 000 mense geëis en die Fukushima Daiichi-kernkragaanleg beskadig.
Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP