Skoonmaker beseer ná sy trein steel
2013-01-15 14:34
Stockholm – ‘n Vrou is vroeg Dinsdag beseer nadat sy glo ‘n plaaslike trein gesteel en teen ‘n woonstelgebou oos van die Sweedse hoofstad Stockholm gebots het.
Inwoners van die gebou is ontruim.
Die vrou, wat as ‘n skoonmaker werk en die enigste persoon is wat beserings opgedoen het, is per helikopter na die Karolinska-universiteitshospitaal geneem.
‘n Ondersoek na die voorval is van stapel gestuur.
Dit blyk asof die skoonmaker, wat in haar twintigs is, die trein gesteel het terwyl dit by ‘n depot was, het Tomas Hendenius, wat vir die treinoperateur Arriva werk, aan TV4 gesê.
Daar was geen passasiers aan boord ten tye van die ongeluk nie.
Die ongeluk het by Saltsjobaden plaasgevind, die laaste stasie op die plaaslike Slussen- Saltsjobaden-lyn.
Die ongeluk het omstreeks 02:30 (01:30 GMT) plaasgevind, wanneer geen treine op die spoor loop nie.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa-DPA