Skoolseun skiet onderwyser, homself
2011-09-23 10:03
Sao Paulo – ‘n 10-jarige skolier van ‘n voorstad in Sao Paulo het selfmoord gepleeg oomblikke nadat hy by sy klas ingestorm en sy onderwyser geskiet het.
Volgens Brasiliaanse owerhede het die seun by die klas ingebars, waar 25 ander skoliere besig was met ‘n les, en prof. Rosileide Queiros de Oliveira (38) in die been geskiet.
Hy het toe uit die klas gehardloop en homself in die kop geskiet.
Die seun, wat nie geïdentifiseer is nie, is nie onmiddellik dood nie en het eers ná twee hartaanvalle beswyk.
Die onderwyser het die voorval oorleef en is in ‘n stabiele toestand in die hospitaal.
‘n Soortgelyke dramatiese skietvoorval het in April by ‘n skool in Rio de Janeiro plaasgevind, toe ‘n 23-jarige aanvaller wat homself as ‘n voormalige student geïdentifiseer het, twaalf kinders tussen die ouderdomme van 10 en 15 doodgeskiet het.
Nóg twee soortgelyke voorvalle het in Augustus in Brasilië plaasgevind.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA