Trane, vrae ná skool-treurspel
2012-12-15 14:59
Video - Oorlewende vertel van skietery
Een van die leerders wat 'n skietery in Newtown, Connecticut oorleef het, vertel meer van die aanval by sy skool.
KYK
Newtown, Connecticut – Dawn Lafferty Hochsprung, die hoof van die skool in Newtown waar 'n skieter Vrydag 20 kinders en ses onderwysers se lewens geneem het, het 'n nuwe sekerheidstelsel by die skool laat installeer ná sy in haar posisie aangestel is, het CNN berig.
Hochsprung, 47, is ook deur Adam Lanza, 20, doodgeskiet.
Die skoolhoof, wat deur kollegas beskryf is as 'n vriendelike maar streng leerkrag wat waarlik vir haar studente omgegee het, het 'n sekerheidstelsel laat installeer wat van besoekers vereis om 'n klokkie te lui ná die skool se hekke soggens om 09:30 gesluit is.
Ouers wat toegang tot die kantoor gegee is, moes 'n foto-identiteitkaart vertoon.
Hochsprung, wat in 2010 as die Sandy Hook-skool se hoof aangestel is, het ook pas met haar doktorsgraad begin, en was in beheer van die skooldistrik se beplanningskomitee.
"Sy was baie passievol. En sy was besonder toegewyd en het baie kennis gehad oor die kurrikulum," het Scott Clayton, voormalige assistent-hoof van die Newtown-hoërskool, gesê.
Die skieter, wat militêre drag gedra het en gewapen was met twee pistole en 'n aanvalsgeweer, het 20 jong kinders en ses onderwysers (insluitend Hochsprung) doodgeskiet.
Hy het volgens berigte ook sy ma by haar huis doodgeskiet. Hy het met sy aanval by die skool hoofsaaklik op twee klaskamers gefokus, en volgens CNN meer as 100 skote afgevuur. Hy het ná die skietery in die skoolgebou selfmoord gepleeg.
Lanza was volgens twee voormalige klasmaats 'n skaam en buitengewoon intelligente student.
Hy het gewoonlik meer formeel aangetrek as sy mede-leerders by die Newtown-hoërskool, en was gereeld te sien in kakiebroeke en toeknoophemde, het Tim Arnone, 'n oud-klasmaat, gesê.
Arnone en Lanza was lede van die skool se oudio-visuele klub, en het in vry periodes dikwels videospeletjies gespeel in die skool se televisie-ateljee.
"Ons het dit die tegnologieklub genoem. Ons het ons eie klein deel in die kamer gehad," het Arnone, 20, aan die nuusagentskap Reuters gesê.
Hy het gesê Lanza se ouers, veral sy ma, het baie druk op hom geplaas om akademies te presteer.
"Sy het hom baie hard gedruk om harder te werk en slimmer te wees in die skool," het Arnone gesê.
Nancy Lanza en haar man, Peter Lanza, het in 2008 geskei. Peter Lanza kon nie vir kommentaar bereik word nie.
Dan Holmes, 'n landskapkunstenaar van die omgewing, het Nancy Lanza as 'n entoesiastiese vuurwapen-versamelaar beskryf. Sy het een keer 'n "duur" aanvalsgeweer aan hom gewys.
"Sy het gesê sy gaan skiet gereeld teiken saam met haar kinders," het hy gesê.
Sy was "baie vriendelik, baie aangenaam en het ons werk altyd baie waardeer," het Holmes gesê.
'n Ander voormalige klasmaat, wat nie sy identiteit bekend wou maak nie, het Lanza as 'n slim student beskryf, maar het gesê hy het nie baie vriende gehad nie.
"Hy was 'n baie stil kind," het hy gesê.
Honderde mense het Vrydagaand 'n roudiens in die St. Rose van Lima-kerk, enkele kilometers van die Sandy Hook-skool af, bygewoon.
"Hierdie is 'n gemeenskap, en wanneer sulke goed gebeur, kom hulle regtig bymekaar," het ene Robert Weiss gesê met die diens se afsluiting.
Party lede van die gemeenskap het kerse aangesteek en in 'n groot sirkel Kersliedere gesing.
– Lees hier meer.
– Volg Nuus24 op Twitter.