Skool-skietery: Finale sterftesyfer bekend
2011-04-08 08:49
Rio de Janeiro – Die dodetal van ‘n skool-skietery in dié Brasiliaanse stad het Donderdagaand na twaalf gestyg nadat ‘n 13-jarige seun aan sy beserings beswyk het, het beamptes en plaaslike media gesê.
Die seun is ná die gewelddadige voorval na ‘n plaaslike hospitaal geneem, maar is Donderdagaand in die hospitaal dood, het gesondheidsowerhede aan die koerant O Globo gesê.
Die skieter en oudstudent, Wellington Menezes de Oliveira (24), het elf ander kinders beseer. Meeste van hulle het kopwonde opgedoen.
Hy het eers ophou skiet nadat ‘n polisiebeampte hom in die been geskiet het.
Volgens beamptes het die skieter daarna sy rewolwer op homself gerig en homself doodgeskiet.
Luidens berigte het hy die skool binnegegaan met ‘n rugsak op sy rug en gesê hy is na ‘n konferensie op pad voordat hy in ‘n klas begin skiet het.
Volg Nuus24 op twitter.
- Sapa - AFP