Skool gee lesse in slaap
2010-03-18 00:57
Londen – Skole in Glasgow is besig met ‘n proeflopie in “slaaplesse” om ‘n gesonde slaaproetine te bevorder en om slegte gewoontes soos om laatnag televisie te kyk te verander.
Die lesse is daarop gemik om kinders te leer om meer effektief te leer, kalmer te wees en beter geestesgesondheid te ervaar.
Kinders word geleer van die belangrikheid van minstens nege ure se slaap ‘n aand.
Hulle word ook aanbeveel om nie toerusting soos selfone, skootrekenaars en videospeletjies in die bed te gebruik nie.
Ten spyte daarvan dat kenners sê skoliere behoort minstens nege ure slaap ‘n aand te kry, is daar kinders wat slegs vier ure slaap.
Die welsynsorganisasie Sleep Scotland, wat die klasse aanbied, sê dat ‘n tekort aan slaap kinders te moeg maak om te konsentreer aangesien hulle breine nie tot die beste vermoë kan werk nie.
“Jy sal iemand nie skool toe stuur sonder die regte hoeveelheid kos nie, so hoekom stuur jy iemand skool toe sonder genoeg slaap,” het die organisasie se direkteur, Jane Ansell, gesê.
Reuters