Skool: 'Vergeet van Valentynsdag'
2010-02-11 11:56
Londen – ‘n Britse skool het sy leerders verbied om kaartjies op Valentynsdag te stuur omdat die kinders glo nie volwasse genoeg vir romanse is nie.
Ashcombe-laerskool, wat kinders vanaf vier- tot elfjarige ouderdom onderrig, het gedreig om enige Valentynsdagkaartjies te konfiskeer wat op die perseel in Somerset, suidwes van Engeland, gevind gaan word, het die Times berig.
“Sommige kinders se ouers praat met hulle oor meisies en kêrels,” het Peter Turner, hoof-onderwyser van die skool, in ‘n maandelikse nuusbrief geskryf.
“Ons glo egter dat sulke idees moet wag totdat die kinders meer volwasse, emosioneel en sosiaal gereed is om die verbintenis wat daarmee gepaard gaan, te verstaan,” het hy in ‘n brief aan die ouers gesê.
Turner het egter onder skoot gekom vir sy stellings oor die Valentynsdagkaartjies. Ouers het gevoel dat indien hul kinders verbied word om kaartjies vir mekaar te stuur, die kinders nooit sosiale vaardighede sal kan aanleer nie.
- Sapa-AFP