Skok ná oppasser kinders vermoor
2012-11-04 13:31
New York – 'n Oppasser wat na bewering twee kinders in haar sorg doodgesteek het voor sy probeer het om haarself om die lewe te bring, is aangekla van moord.
Yoselyn Ortega het teen Saterdag genoeg aangesterk om in haar hospitaalbed by die New York Presbyterian Weill Cornell Medical Center deur die polisie ondervra vra te word. Ortega is daarna aangekla van moord.
Dit is nie bekend of sy 'n regsverteenwoordiger het nie.
Die kinders se ma was die aand van 25 Oktober glo uit met 'n derde kind toe Ortega die sesjarige Lucia Krim en haar tweejarige broer, Leo, herhaaldelik gesteek het.
Toe die kinders se ma, Marina Krim, terugkeer met haar driejarige dogter, het sy haar kinders se lyke in die bad gevind. Ortega het met steekwonde aan haar nek op die badkamervloer gelê.
Die kinders se pa, Kevin Krim, was ten tyde van die moorde uitstedig.
Sommige van Ortega se vriende en familielede het gesê sy het die afgelope ruk emosioneel en finansieel gesukkel, maar hulle kon steeds nie glo dat sy die kinders vermoor het nie.
– Volg Nuus24 op Twitter