Skietery vertraag Obama besoek
2009-11-07 10:25
Tokio – Die Amerikaanse pres. Barack Obama het sy besoek aan Japan volgende week met ‘n dag vertraag, ná dodelike skietvoorvalle by die Fort Hood millitêre basis in Texas voorgekom het.
Volgens Japan se nasionale uitsaaier NHK en Jiji, het Washington aan Tokio gevra om die skedule vir die tweedaagse besoek te verander, sodat Obama ‘n roudiens vir die 13 mense wat in Donderdag se skietvoorval gesterf het, kan bywoon.
Obama moes Donderdag vir sy eerste besoek aan Japan gearriveer het, vir gesprekke met premier Yukio Hatoyama en om ook keiser Akihito te ontmoet.
Obama sal nou Vrydag arriver en tot Saterdag bly, het ‘n beampte van die buitelandse ministerie gesê. ‘n Vergadering wat geskeduleer is met Hatoyama, sal steeds voortgaan soos beplan.
Die 39-jarige maj. Nidal Malik Hasan wat van die skietvoorvalle verdink word, was ‘n psigiater en spesialis in gevegstres, en sou teen sy wense na Afganistan ontplooi word.
Dertig mense is ook gewond in die dodelike skietvoorval.
Obama het versoek dat vlae by die Withuis halfmas moet hang, en ‘n minuut van stilte moet gehou word vir diegene wat gesterf het.
- Sapa