Skietery by nagklub laat 2 dood, 4 gewond
2011-04-25 21:44
Oakland (Kalifornië) - Die polisie in Kalifornië sê ‘n man wat toegang tot ‘n nagklub in Oakland geweier is, het met ‘n aanvalsgeweer op mense by die klub losgebrand.
Twee mense is dood en twee is beseer in dié skietery.
Die owerhede is op soek na verdagtes in die skietery, wat Maandag omstreeks 01:00 by die Sweet Jimmie-klub naby die Jack London-plein in dié stad gebeur het.
Die San Francisco Chronicle berig ooggetuies het aan die owerhede gesê verskeie mans het saam by die nagklub opgedaag. Toe hulle toegang geweier is, het een van hulle losgebrand op die 10 tot 15 mense wat toe binne die klub was.
Die polisie het ongeveer ‘n uur later op ‘n ander skietery by ‘n nabygeleë nagklub gereageer, maar volgens ondersoekers blyk die twee voorvalle nie met mekaar verband te hou nie.
- Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AP