Skenker los R1 m in toilet vir Japanse rampslagoffers
2011-09-29 13:20
Tokio – ‘n Anonieme skenker het kontant ter waarde van sowat R1 miljoen in ‘n openbare toilet in Japan met spesifieke instruksies gelos.
Volgens ‘n beampte het die skenker in ‘n brief gevra dat die geld gebruik moet word om slagoffers van die massiewe aardbewing en tsoenami op 11 Maart te help.
‘n Plastiek inkopiesak wat 10 miljoen yen bevat het, is op 22 September in ‘n toilet vir gestremde mense in Sakado se stadsaal gelos, het ‘n stadsbeampte Donderdag aan AFP gesê. Sakado is ‘n dorp wat noord van die Japanse hoofstad, Tokio, geleë is.
Die geld sal aan die Japanse Rooikruis oorhandig word indien die anonieme skenker nie die geld binne drie maande terugeis nie, het Masumi Sekiguchi, ‘n woordvoerder, gesê.
Sy sê ‘n handgeskrewe nota is aan die kontant geheg. Die brief lui: “Ek is alleen. Ek het geen toekoms nie, so laat die mense in Tohoku dit gebruik.”
Tohoku is die land se noordoostelike streek wat deur die katestrofiese ramp geteister is.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP