Situasie in Haïti 'katastrofies'
2010-01-18 16:58
Genève - Die Internasionale Komitee van die Rooi Kruis (IKRK) het Maandag die situasie in Haïti as “katastrofies” beskryf.
“Die taak wat op humanitêre organisasies wag, is skrikwekkend,” het Riccardo Conti, hoof van die IKRK in Haïti, gesê.
“Ten spyte van die organisasies wat reeds daar is om te help, is daar nog baie mediese instansies en klinieke in Port-au-Prince wat personeel en medisyne nodig het,” sê Conti.
Volgens die IKRK is die beskikbaarheid van skuiling, water, sanitasie, kos en mediese sorg "uiters beperk”.
'n Tekort aan water veroorsaak gesondheids- en sanitasieprobleme, terwyl die stank van urine “dwarsoor die eiland” geruik kan word, het die IKRK in ‘n verslag gemeld.
Intussen bestempel die instansie die omstandighede in tydelike kampe wat vir die oorlewendes opgesit is, as kommerwekkend.
“Die mense raak al hoe meer aggressief want hulle het kos en water nodig,” het 'n 29-jarige vrou wat in die Rooi Kruis se verslag aangehaal is, gesê.
Plundery en die openlike dra van vuurwapens word ook gereeld gemeld.
- Sapa