Sirië sien rooi ná lugaanval
2013-02-01 11:07
Damaskus – Sirië het gedreig om met mag en mening terug te slaan ná ‘n lugaanval wat volgens die regering deur Israel uitgevoer is.
Sirië het Israel Woensdag as vyand uitgesonder ná ‘n lugaanval op ‘n militêre navorsingsentrum, wat gelei het tot die dood van twee mense in Jamraya, naby Damaskus.
Israel het nog nie kommentaar gelewer op Sirië se bewerings nie.
Sirië se departement van buitelandse sake het gesê dat Israel en die “staat wat Israel beskerm” verantwoordelik is vir die aanval.
Die departement het ook gevra dat die Verenigde Nasies die nodige stappe moet doen om te verseker dat ‘n soortgelyke aanval nie weer plaasvind nie.
Ban Ki-moon, sekretaris-generaal van die VN, het gevra dat almal moet saamwerk om die spanning in die gebied te verlig.
Intussen het Hillary Clinton, die VSA se minister van buitelandse sake, Donderdag haar kommer uitgespreek oor die manier waarop Iran toenemend vir pres. Bashar al-Assad van Sirië ondersteun.
“Ons glo hulle [Iran] het meer personeel na Sirië gestuur, nie net om vir Assad te help nie, maar ook om militêre magte te ondersteun,” het Clinton in Washington gesê.
Iran het al voorheen gesê dat ‘n aanval deur Israel op Sirië, as ‘n aanval op Iran beskou sal word.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP