Sirië laat gevangenes vry
2011-11-15 22:54
Damaskus – Sirië het meer as 1 000 gevangenes Dinsdag vrygelaat in ‘n blykbare laaste poging om Arabiese leiers gunstig te stem nadat Turkye en Amerika President Bashar al-Assad gewaarsku het om op te hou om sy eie mense dood te maak.
‘n Dag nadat meer as 70 mense gesterf het in een van die bloedigste dae in Sirië se agt maande lange opstand teen die regering het Ban Ki-Moon, hoof van die Verenigde Nasies, gesê Assad moet ‘n ooreenkoms wat hy met die Arabiese Liga gemaak het, implementeer om ‘n vreedsame oplossing te vind.
Volgens die Verenigde Nasies is meer as 3 500 mense reeds doodgemaak sedert die middel van Maart soos die Assad-regime op betogers toegeslaan het.
“Dit is uiters belangrik dat President Assad onmiddellik ophou om sy eie mense dood te maak,” het Ban gesê en Arabiese state gevra om hul “leierskap” uit te oefen om die krisis vinnig te help oplos.
Amerika het Arabiese leiers intussen gevra om meer druk op Sirië te plaas voor ‘n vergadering in Marokko.
Sirië het 1 180 betogers vrygelaat, wat in lyn is met een van die punte in die Arabiese Liga se plan.
- Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP