Sirië: Twee bomme tref weermag se hoofkwartiere
2012-09-27 10:16
Damaskus – Twee bomme het die hoofkwartiere van die Siriese weermag in Damaskus getref, terwyl Hillary Clinton, die Amerikaanse minister van buitelandse sake, 'n beroep op die VN se Veiligheidsraad gedoen het om 'n manier te vind om die konflik te beëindig.
Vier wagte is in die aanval dood, wat tot 'n gevegstryd tussen troepe en rebelle gelei het, het die Siriese staatsmedia berig.
'n Rebelle-beampte en die Siriese Waarnemers vir Menseregte het gesê iemand in die binnekring was betrokke terwyl 'n Islamitiese rebellegroep gesê het van hul lede het die aanval uitgevoer, en vyf van hulle vegters insluitend 'n selfmoordbomaanvaller is in die aanval dood.
Dit was sover nog onmoontlik om dié bewerings te bevestig.
Volgens die weermag het "terroristegroepe" met buitelandse verbintenisse, die aanval uitgevoer deur 'n motorbom en 'n ander toestel te detoneer.
Alle senior kommandeurs en ander beamptes was veilig en ongedeerd, is in 'n verklaring bekendgemaak.
Staatstelevisie het beeldmateriaal uitgesaai van 'n wit voertuig wat langs die weermag se hoofkwartiere ontplof, en 'n tweede ontploffing binne die basis.
Volgens die staatstelevisie was die bomme 10 minute uitmekaar. Veertien mense is tydens die ontploffings gewond.
'n Woordvoerder vir die Siriese Bevrydingsmag, Ahmed al-Khatib, het gesê twee motorbomme was by die aanval betrokke.
al-Khatib het egter ontken dat die motors deur selfmoordaanvallers bestuur is.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- AFP