Sirië: Rebelle teiken regeringsmagte
2012-01-02 18:39
Beirut – Gewapende Siriese rebelle het lede van die land se veiligheidsmagte gevange geneem nadat hulle twee militêre basisse in Idlib oorgeneem het, het die Siriese Waarnemers vir Menseregte (OHCHR) gesê.
Volgens die groep het rebelle ook met veiligheidsmagte by ‘n derde basis gebots en ‘n onbekende aantal troepe wat lojaal aan pres. Bashar al-Assad is, gedood of ernstig beseer.
Rami Abdelrahman, direkteur van die Britse OHCHR, het gesê dat Maandag se voorval in die Jabal al-Zawiyah-gebied van Idlib plaasgevind het. Dit was nie onmiddelik bekend hoeveel mense deur die rebelle vermoor of gevange geneem is nie, het hy gesê.
Die Siriese regering verbied die meeste internasionale joernaliste om die land te betree, wat dit moeilik maak om verslae van gebeure te bevestig.
‘n Vergadering met gesante van die Arabiese Liga gaan gehou word om Assad se samewerking met ‘n vredesplan te monitor.
Waarnemers van die Arababiese Liga monitor Sirië se samewerking met ‘n Arabiese vredesplan wat eis dat Assad sy troepe uit die strate ontruim, gevangenes vrylaat en met die opposisie onderhandel.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Reuters