Sirië: Rebelle gee regime spertyd om slagting te staak
2012-05-31 19:00
Damaskus – Gewapende rebelle het Sirië se regime tot Vrydagmiddag (09:00 GMT) gegee om Kofi Annan se vredesplan vir die beëindiging van die geweld in Sirië deur te gaan en sê hulle sal “dapper besluite” neem as die spertyd nie nagekom word nie.
Die ultimatum deur die Free Syrian Army (FSA) kom kort nadat die Amerikaanse ambassadeur vir die Verenigde Nasies, Susan Rice, gewaarsku het dat die vooruitsigte vir ‘n politieke oplossing in Sirië nou “amper nie meer bestaan nie” en dat die veiligheidsraad nuwe aksie teen Damaskus moet bespreek.
“As die Siriese regime nie die spertyd teen Vrydagmiddag nakom nie, sê die bevel deur die FSA dat hy nie meer verbind sal wees deur die Annan-plan nie... en ons plig sal wees... om burgerlikes te verdedig,” het ‘n verklaring deur FSA gesê.
Partye tot die Siriese konflik, wat volgens monitors reeds meer as 13 000 mense se lewens geëis het sedert Maart verlede jaar, het op 12 April ooreengekom om te bly by ‘n wapenstilstand wat deur Annan, die VN se vredesgesant vir Sirië, bemiddel is.
Die wapenstilstand is grootliks geïgnoreer, ten spyte daarvan dat byna 300 VN-waarnemers op die grond ontplooi is. Die dodetal het in onlangse weke drasties gestyg, met die regime se magte wat aanvalle loods op die opposisie se vestings.
Die FSA het ‘n spesifieke slagting op 25 en 26 Mei in die dorp Houla uitgesonder, waarin meer as 100 mense, insluitende 49 kinders en 34 vroue, dood is.
“Ná die barbaarse slagting van vroue en kinders by Houla... wil ons bekend maak dat daar nie meer regverdiging vir ons is om die wapenstilstand te respekteer nie, want (pres. Bashar al-Assad) het Annan se plan begrawe,” het die FSA se verklaring verder gesê.
Die verklaring sê hy sal in komende dae “’n reeks beslissende en dapper besluite vir die volgende fase” van hul stryd teen Assad se magte aankondig.
Die rebelle het aangedring dat die regime al ses punte van Annan se plan nakom: ‘n onmiddellike wapenstilstand; ‘n einde aan alle vorme van geweld; tenkwaens en gepantserde voertuie moet uit burgerlike gebiede bly; humanitêre toegang na alle gebiede; die vrylating van politieke gevangenes en betogers; en toegang vir die media na alle dele van die land.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP