Sikloon tref eiland
2010-02-11 03:57
Wellington, Nieu-Seeland - 'n Tropiese sikloon het Donderdag verwoesting gesaai toe dit die Cook-eilande in die Paisfiese oseaan getref en talle huise, bome en kragdrade platgeslaan het.
Sikloon "Pat" het die hoof-eiland van Rarotonga gespaar, maar word beskryf as een van die grootste storms wat die gebied van Aitutaki in omtrent 20 jaar getref het.
Sowat 90 persent van die eiland se sowat 2 000 mense se huise is verwoes, het insp. Teri Pati van die nasionale rampbestuur op Rarotonga gesê.
Daar was geen aanvanklike sterftegevalle aangemeld nie, hoewel talle beserings verwag word.
Die regering het 'n noodtoetsand op Aitutaki aangekondig, en hoop nou op hulp van die nabye Nieu-Seelandse owerhede.
"Dit is een van die ergste siklone wat die eiland nóg getref het," het Pati aan Nieu-Seeland se National Radio gesê.
- AP