Sikloon Tomas woed steeds in Fidji
2010-03-16 11:21
Suva, Fidji – Sikloon Tomas het teen Dinsdag begin kalmeer, maar ‘n noodtoestand is verklaar in die buite-eilande wat die ergste geraak is.
Krag is uitgeslaan en duisende mense is in skuilings geplaas.
Kommunikasie na die buite-eilande en noordelike dele van Vanua Levu, die tweede grootste eiland, is afgesny en gevolglik sal daar nie voor ten minste Woensdag kan bepaal word hoe groot die skade is nie, het amptenare gesê.
Een sterfte is sover aangemeld.
Fidji se nasionale rampraad het Dinsdag ‘n 30-dag noodtoestand verklaar vir die land se noordelike en oostelike dele.
Troepe sal so gou moontlik ontplooi word om hulp, insluitende water en basiese behoeftes, aan die geraakte dele te neem.
Winde van tot 205km/h en rukwinde van 280km/h is aangemeld.
Matt Boterhoven, senior voorspeller by Fidji se tropiese sikloon-sentrum, het gesê dat Tomas steeds ‘n kategorie 4 storm is, maar dat dit teen laat Dinsdag tot ‘n kategorie 3 kan verminder.
- Sapa-AP