Sewejarige vind luislang in toilet
2011-03-28 23:00
Berlyn - ‘n Sewejarige meisie in Duitsland het ‘n groot skok gekry toe sy ‘n toiletsitplek oopgemaak en ‘n ontsnapte luislang in die bak gevind het, het die polisie Maandag gesê.
Die meisie het na haar ma gehardloop ná haar ontdekking by hul huis in Hanover in die noorde van Duitsland.
Die 39-jarige vrou het die polisie gebel.
Die polisie het foto’s geneem en die dierereddingsafdeling van die brandweer in kennis gestel van die ontsnapte slang.
“Voordat die slang gevang kon word, het dit weer by die dreinpyp af verdwyn. ‘n Soektog het nie vrugte afgewerp nie,” het die polisie gesê en bygevoeg die slang is waarskynlik ‘n ontsnapte troeteldier.
- Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP