Sewe sterf in aanvalle in Israel
2011-08-19 09:12
Jerusalem - Sewe mense is dood en sowat 25 gewond in drie aanvalle deur gewapende aanvallers Donderdag in die suide van Israel.
Die aanvalle was enkele meter van die Egiptiese grens, wat tot gelei het tot beskuldigings deur Israel dat die aanvallers van Egipte afkomstig is.
Israel het gesê die aanvallers het die land van die Palestynse Gasastrook via die Sinai-skiereiland in Egipte geïnfiltreer. Egipte ontken dit en het die laaste paar dae veiligheid verskerp om ekstremiste vas te vat.
“Die voorval het Israeli’s en Israelse soewereiniteit skade berokken. Israel sal dienooreenkomstig optree,” het die Israelse premier, Benjamin Netanyahu, in ’n verklaring gesê.
Dit was die dodelikste aanvalle in Israel sedert 2008.
Die Israelse weermag het gesê die aanvalle op ’n hoofweg by die grens het begin toe “terroriste op ’n bus geskiet het wat na Eilat onderweg was en toe ’n tenkafweer vuurpyl op nog ’n voertuig gevuur het. ’n Militêre patrollie het terselfdertyd ’n ploftoestel afgetrap”.
Lede van Israel se spesiale magte is ontbied en was in ’n skietgeveg met die aanvallers gewikkel. Die weermag het gesê twee tot vier gewapendes is dood.
“Twee mans in kamoefleerdrag het op my geskiet,” het Benny Bilbaski, die busbestuurder, gesê.
“Ek het gesien sommige van die mense op die bus is gewond, maar het aangehou ry. Ek het reguit voor my gekyk en nie links of regs gekyk nie. ’n Kilometer van die skietery het ek stilgehou en ons het na die gewondes omgesien.”
Hamas in die Gasastrook het ontken dat hy vir die aanvalle verantwoordelik is en gesê hy sal nie terugstaan indien Israel ’n aanval sou uitvoer nie.
Israelse amptenare het voorheen kommer uitgespreek dat radikale groepe in die Sinai die veiligheidsvakuum misbruik wat gelaat is nadat oudpres. Hosni Mubarak van Egipte in Februarie uit die kussings gelig is.
Egipte het onlangs veiligheid in die Sinai verskerp en het Dinsdag vier militante aangekeer wat glo ’n gaspypleiding wou opblaas. – Reuters
Volg Nuus24 op Twitter.
- Die Burger