Sewe beseer in bomaanval in Pakistan
2011-10-27 10:08
Pesjawar, Pakistan – Sewe mense is beseer toe ‘n bom Donderdag buite ‘n kruidenierswinkel in ‘n besige mark in Pesjawar, Pakistan, ontplof het, het die polisie gesê.
Die bom was in ‘n oliehouer verpak en is buite die winkel geplaas in die stad se gewilde Rampura-mark, het ‘n plaaslike polisiebeampte, Javed Khan, gesê.
“Sewe mense is beseer in die ontploffing, waaronder een ernstige beserings opgedoen het,” het hy gesê en bygevoeg dat daar ook skade aangerig is aan twee winkels en ‘n motor wat daar naby geparkeer was.
Die beseerdes was werkers en verbygangers, het Khan gesê.
Volgens die hoof van die plaaslike bomeenheid was dit ‘n tuisgemaakte bom wat sowat drie tot vier kilogram se plofstof bevat het.
Dit lyk of die kruidenierswinkel die teiken was, het ‘n senior-polisiebeampte, Tahir Ayub, gesê.
“Ons ondersoek hoekom juis hierdie winkel geteiken is,” het hy gesê.
Niemand het sover verantwoordelikheid vir die aanval aanvaar nie.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP