Seun wat Russiese vliegramp oorleef, sterf
2011-06-22 13:10
Moskou – 'n Jong oorlewende van die vliegongeluk in noordwestelike Rusland het weens sy beserings beswyk, het 'n woordvoerder van die ministerie van gesondheid gesê.
Dít bring die dodetal ná dié ramp op 45 te staan.
Anton Terekhin en sy tienersuster, Anastasia, was onder agt mense wat Dinsdag se vliegongeluk in die land se Karelia-streek oorleef het. Hulle ma het ook in die vliegongeluk gesterf.
"Anton Terekhin is dood. Hy het erge beserings gehad," het Elena Kokovurova, woordvoerder van die ministerie van gesondheid, gesê.
Sy 14-jarige suster is na Moskou verplaas vir behandeling. Die ander oorlewendes is almal in 'n stabiele toestand.
Die Tupolev 134 het in gure weer in Petrozavodsk in die Karelia-streek probeer land, maar sowat 700 m voor die aanloopbaan op ’n pad neergestort en minstens een voertuig saamgesleep.
Volg Nuus24 op Twitter
- AFP