Seun vermoor ma wat hom druk oor punte
2011-11-24 12:55
Seoel – ‘n Tiener in Suid-Korea het glo sy ma vermoor omdat sy hom gedruk het om eerste te kom in sy eksamens, waarna hy haar lyk vir agt maande in hul huis weggesteek het, het die polisie Donderdag gesê.
Die polisie het gewag vir ‘n formele lasbrief om die 18-jarige, wat na verneem word sy ma in Maart vermoor het deur haar in die nek te steek, in hegtenis te neem, het ‘n speurder by ‘n polisiestasie in Seoel se Gwangjin-distrik gesê.
Die beampte, wat anoniem wou bly, het die besonderhede in ‘n berig van die Yonhap-nuusagentskap bevestig.
Die moord het aan die lig gekom toe die seun se pa, wat nie saam met sy vrou woon nie, ‘n besoek aan die huis afgelê het en sy seun se optrede vreemd gevind het.
Nadat hy met die polisie gepraat het, het hulle na die huis gegaan en die ma se lyk in haar kamer gevind.
Volgens die polisie het die 51-jarige ma haar seun gedruk om beter eksamenpunte te kry, selfs al was sy akademiese prestasies reeds goed.
Sy het hom soms nie kos gegee of nie toegelaat om bed toe te gaan nie.
Die seun, wat sowat 4 000ste in die land gekom het in ‘n oefentoets vir die toegangeksamen vir universiteit, het met die uitslae gepeuter sodat hy 62ste kon lê uit sowat 700 000 kandidate.
Nietemin was sy ma nie eers met hierdie prestasie tevrede nie. Op die vooraand van die moord het sy hom na bewering met ‘n bofbalkolf en gholfstok geslaan en daarop aangedring dat hy eerste in die land moet wees.
Die seun was vreesbevange dat sy ma sal uitvind dat hy met die uitslae gepeuter het, aangesien sy beplan het om die skool die volgende dag te besoek, het die polisie gesê.
Skoolkinders kan onder groot druk kom in Suid-Korea, waar toegang tot ‘n goeie universiteit die sleutel is tot 'n goeie werk.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP