Seun van SA egpaar in Maleisië ontvoer
2012-05-02 14:45
Kuala Lumpur – Die familie van 'n 12-jarige Nederlandse seun, wat vyf dae gelede in Kuala Lumpur ontvoer is, het Woensdag 'n beroep gedoen op enige inligting wat kan help om hul vermiste seun op te spoor.
'n Maleisiese sakeman asook 'n Maleisiese gebaseerde nuusportaal het gesamentlik 'n beloning van $20,000 (sowat R154 000) aangebied vir inligting wat kan help om Nayati Shamelin Moodliar te vind.
Moodliar is glo Vrydag deur twee mans gegryp terwyl hy na die Mont' Kiara International-skool, naby sy huis in Kuala Lumpur, gestap het. Hy is na 'n swart motor, waarin die mans gevlug het, gesleep, het die polisie gesê.
"Ons het geen nuwe inligting oor waar Nayati hom bevind nie," het die seun se familie laat Woensdag op 'n Facebook-blad, wat spesiaal vir die vermiste seun geskep is, geskryf.
"Stuur asseblief enige inligting of voorstelle na ons e-pos-adres."
Die slagoffer se ouers is oorspronklik van Suid-Afrika, maar het Nederlandse burgerskap.
Die polisie het nog nie enige inligting oor hul ondersoek bekendgemaak nie.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa-DPA