Seun beplan aanval op skool
2009-10-22 00:30
Monroe, New York – ‘n 15-jarige seun van New York is daarvan beskuldig dat hy petrol, propaan, lonte en ‘n panga bymekaargemaak het vir ‘n beplande skoolaanval op die herdenking van die Columbine skoolslagting.
Die speurder wat die tiener ondervra het, het gesê dat die seun in trane uitgebars het en erken het dat hy ontsteld was dat hy geboelie is.
David Darwin, die Orange County advokaat, het gesê dat klagtes waarskynlik in die jeughof ondersoek gaan word. Die seun se naam is nie bekendgemaak nie.
Twee seniors by Columbine Hoërskool in Littleton, Colorado, het op 20 April 1999 met gewere en pyp-bomme op die skool toegesak. ‘n Groter bom, wat hulle gehoop het sal in die besige kafeteria ontplof, het nie afgegaan nie.
12 studente en een onderwyser is in die aanval dood.
Dominic Giudice, die polisiehoof in Monroe, het gesê dat die seun Maandag in aanhouding geneem is nadat amptenare sy huis deursoek het.
Volgens die polisie het hy beplan om die Monroe Woodbury Hoërskool op 20 April aan te val en hy het beplan om ‘n geweer ook te koop.
Die seun is in ‘n psigiatriese fasiliteit.
- Sapa - AP