Seun (1) byt slang se kop af
2012-01-27 10:11
Tel Aviv – ‘n Ontmoeting tussen ‘n slang en ‘n peuter het op ‘n onverwagse wyse geëindig toe die seun die slang se kop afgebyt het.
Imad Gadir (1) van Shfaram in die noorde van Israel het Donderdagoggend die 35 cm lange slang in sy kamer gekry en was na hartelus besig om aan die reptiel te smul toe sy ma by die kamer inkom het, het die Ynet-nuuswebtuiste Vrydag berig.
Haar angswekkende gegil het een van die bure na die huis laat hardloop. Hy moes die oorblyfsels van die slang uit die kind se hande verwyder.
“Ek neem aan die kind het soos enige ander kind nuuskierig gereageer en die slang in sy mond gedruk,” het Eli Cohen, ‘n slangvanger, gesê.
“Gelukkig vir hom was die slang nie giftig nie, anders kon die hele voorval in ‘n tragedie geëindig het.”
Die byt van die Hemorrhois nummifer (coin snake) is nie giftig nie, maar kan baie gevaarlik wees vir enigiemand wat allergies daarvoor is.
Die slang verwurg normaalweg sy prooi, het Cohen gesê. As die slang enigsins groter was, kon dit maklik vir Imad verwurg het.
Die kind het geen beserings tydens die voorval opgedoen nie, maar is na ‘n hospitaal in Haifa geneem vir ‘n mediese ondersoek.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa-DPA