Sestien dood, 37 steeds vermis ná olieboorramp
2011-12-19 13:04
Moskou – Die liggame van 16 bemanningslede van die olieboor-platform wat Saterdag naby Rusland se Sakhalin-eiland gesink het, is gevind.
"Sestien lyke is sedert die begin van die reddingspoging gevind," het 'n amptenaar Maandag in 'n uitgereikte verklaring gesê.
Die olieboor-platform Kolskaya, met 67 mense aanboord, is Sondag vanaf die Kamchatka-skiereiland na Sakhalin-eiland gesleep toe dit in 'n storm vasgevang, omgeslaan en binne 20 minute gesink het.
Veertien bemanningslede is Sondag gered en nog vier bemanningslede in duikpakke is in die water opgemerk, maar hulle het geen teken van lewe getoon nie. Reddingswerkers kon nie daarin slaag om hulle uit die water te kry nie.
'n Mi-8 helikopter, die Magadan-ysbreker en nog twee skepe help tans om na die vermiste bemanningslede te soek.
Volg
Nuus24 op Twitter.
- SAPA