Sesjarige ontvoer, verkrag, langs pad afgelaai
2013-02-16 15:24
Nieu-Delhi – In die jongste aanval op vroue en meisies in Nieu-Delhi is 'n sesjarige meisie ontvoer, verkrag en langs 'n pad in die Indiese hoofstad afgelaai.
Die meisie is Sondagaand deur 'n verbyganger opgemerk, maar mense is eers Vrydag van die misdaad bewus gemaak nadat die plaaslike media oor die voorval berig het.
"Mediese ondersoeke bevestig dat die meisie verkrag is, sy is tans in die hospitaal," het Om Prakash, polisiewoordvoerder, gesê.
"Ons is besig met 'n grootskaalse soektog om diegene wat vir die wrede aanval verantwoordelik is, vas te trek. Ongelukkig het ons nie veel leidrade nie omdat die meisie getraumatiseerd is en nie 'n volledige verklaring kan gee nie," het hy bygevoeg.
Die Times of India het berig dat die slagoffer laas saam met 'n man in sy vroeë twintigs gesien is en dat sy moontlik deur meer as een verdagte verkrag is.
Talle verkragtings is sedert verlede jaar Desember in Nieu-Delhi aangemeld ná die brutale bendeverkragting van 'n 22-jarige student op 'n bus in dié stad.
Die aanval het tot betogings gelei regoor Indië vir beter beskerming van vroue en strenger wette teen verkragtings.
Vroeër die maand het 'n man in Nieu-Delhi 'n ysterpaal in 'n jong meisie se keel gedruk toe sy haar verset het terwyl hy haar verkrag het.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA