Ses vas wat lyke se goue tande steel
2011-12-01 15:55
Seoel – Ses krematorium-werkers in Suid-Korea is in hegtenis geneem nadat hulle lyke se goue tande gesteel en verkoop het, het die polisie gesê.
Volgens die polisie het die verdagtes die gesmelte goud van oorledenes se verbande oorskotte geneem.
Een verdagte, wat net as Lee bekendstaan, het sowat $17 700 (bykans R145 000) verdien nadat hy gesmelte goud verkoop het, het Seoel se metropolisie gesê. Hy was ‘n werker by die Seoel-krematorium.
Vyf ander werknemers by vier krematoriums in die provinsiale stede is ook aangekeer nadat hulle goud gesteel het.
Volgens die regering word al hoe meer Suid-Koreane veras. In 2010 het 67,5% inwoners gekies om eerder veras as begrawe te word.
Die gesteelde goud is gesmelt en as juwele of vir tandheelkundige toestelle herwin, het die polisie gesê.
“Daar is geen spesifieke regulasies oor hoe om met goud van veraste lyke te werk te gaan nie, maar dis ‘n kriminele oortreding as iemand dit net neem,” het Kang Youn-Seok, ‘n polisiebeampte, gesê.
Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP