Ses vas ná ontploffing by vuurwerk-fabriek
2012-09-06 15:46
Chennai – Ses mense is Donderdag in hegtenis geneem en die polisie in Indië is op soek na die baas van ‘n vuurwerk-fabriek waar 38 mense in ‘n brand dood is.
Brandbestryders het vir ure geswoeg om die brand, wat Woensdagmiddag by die Om Sivasakthi-aanleg in Sivakasi uitgebreek het, onder beheer te bring.
Najmul Hoda, ‘n senior polisiebeampte, het ‘n rits oortredings by die aanleg gelys. Hy sê die fabriek se produksielisensie is herroep, maar werkinge het nietemin voortgegaan.
“Slegs 160 mense word toegelaat om te werk, maar daar was sowat 400 mense op die perseel,” het hy aan verslaggewers op die toneel gesê.
Die veiligheidstelsel vir brande het nie gewerk toe ‘n brand aanvanklik uitgebreek het nie en die perseel is glo ook onderverhuur aan ‘n derde party, wat onwettig is.
“Die eienaar kan nie die fabriek aan iemand anders oorgee nie,” het Hoda gesê en het bygevoeg dat die polisie die eienaar probeer opspoor vir ondervraging.
Ses mense is reeds in hegtenis geneem, insluitend die voorman van die aanleg.
“Soos die ondersoek vorder sal almal wat medepligtig was in hegtenis geneem word,” het Hoda gesê.
Sewentig mense word vir beserings behandel.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP