Ses polisielede geskors oor hawelose se dood
2011-08-04 15:09
Los Angeles – Ses polisielede van Fullerton, Kalifornië is tydelik met betaling geskors terwyl die FBI en die staatsaanklaer ‘n saak van moord op ‘n hawelose man ondersoek.
Die polisiehoof, Michael Sellers, het besluit om die ses polisielede te skors ure voor ‘n stadsraadvergadering in Fullerton Dinsdagaand.
Meer as 100 inwoners het tydens die drie uur lange vergadering hul woede oor die dood van Kelly Thomas uitgespreek.
Hy het ernstige beserings opgedoen toe hy op 5 Julie in hegtenis geneem is, het ‘n polisiewoordvoerder gesê.
Thomas se pa het ook die vergadering bygewoon en het die polisie van aanranding beskuldig.
“Waar was my seun se regte?” het hy voor die stadsraad gevra.
“Luister hoe soebat hy die polisie. ‘Asseblief, asseblief, Here, ek is jammer, ek is jammer.’”
“En toe die laaste woorde van sy lewe: ‘Pappa! Pappa!’ Ek wil hê julle moet daardie woorde vir die res van julle lewens aanhoor,” het hy woedend gesê.
– Lees meer hier.
– Volg Nuus24 op Twitter.