Ses dood in gevegte teen Taliban
2009-07-24 15:26
Islamabad, Pakistan – Een soldaat en vyf vegters is dood in ‘n operasie teen die Taliban in Pakistan se noordwestelike Swat-vallei.
Soldate het soekoperasies in Surgulai en Syed Piranda Baba Ziarat in Swat uitgevoer en twee terroriste doodgeskiet, het Pakistan se weermag Vrydag in ‘n verklaring gesê.
Twee militants is doodgemaak in die Allah Dand-area daarnaby. ‘n Soldaat is in dieselfde area dood.
‘n Vyfde vegter is doodgemaak tydens ‘n soekoperasie naby Khawzakhela.
Die weermag het ook gesê hulle het ses vegters uit verskillende areas in Swat in hegtenis geneem.
Die jongste geweld volg ‘n verklaring deur die Taliban se Muslim Khan. Die Taliban-woordvoerder in Swat het beweer die beweging se top-leier, Fazlullah, is steeds lewendig en het gesê die terroriste beweging sal eersdaags ‘n herlewing ondervind.
- Sapa-DPA